ASEM UIT

ATKV-TIENERTONEEL-STREEKSFEESTE

ATKV-Tienertoneel, die oudste projek van die ATKV, vier vanjaar sy twee-en-sestigste bestaansjaar.

Hierdie nasionale projek bied jong talent die ruimte om asem te haal, hul stem te ontdek en kreatief te groei binne ’n omgewing van mentorskap, ontdekking en verbeelding.

Die formaat bied deelnemers die geleentheid om ná elke opvoering in gesprek te tree met mentorbeoordelaars wat reeds diep spore in die bedryf getrap het.

’n Waardevolle uitruiling waar nuwe perspektiewe ingeasem, idees laat leef en talent die suurstof kry om verder te ontwikkel.

Vanjaar neem duisende tieners deel aan produksies regoor Suid-Afrika vanaf 23 Julie tot 29 Augustus.

Die topagtproduksies word uitgenooi na die ASEM-finaal van 29 September tot 3 Oktober by die Kunstekaap in Kaapstad.

’n Besonderse samekoms waar die land se sterkste jong teaterstemme saamvloei en die hartklop van Suid- Afrikaanse jeugteater opnuut laat voortleef.

ATKV-TJOKKERTONEEL-STREEKSFEESTE

ATKV-Tjokkertoneel is die vinnigste groeiende projek in die ATKV se toneelaanbod. Hierdie inisiatief nooi laerskoolkinders uit om diep asem te haal, hul verbeelding vrye teuels te gee en met selfvertroue die verhoog te betree.

Met slim, opwindende mini-tonele van 25 minute ontdek jong spelers dat elke storie met een asemteug begin. Deur spel, taal en beweging ontwikkel hulle kreatiwiteit, kommunikasievaardighede en die moed om hul stem te laat hoor.

ATKV-Tjokkertoneel skep ruimte waar jong talent kan asemhaal, groei en floreer.

ATKV-SÊR-STREEKSFEESTE

ATKV-Sêr is die nuutste toevoeging tot die ATKV se toneelaanbod en bied aan hoërskoolleerders ‘n dinamiese platform waar stemme, beweging en stories in een asem saamvloei.

Hierdie unieke a capella-kompetisie verweef sang, dans, storievertelling en kreatiwiteit tot ‘n ervaring wat deelnemers én gehore saam laat asemhaal.

Elke uitvoering is ‘n ritme van asem, harmonie en emosie – ‘n viering van sameklank waarin elke stem bydra tot iets groter as homself. Deur ATKV-Sêr ontdek jongmense die krag van samewerking, kreatiewe uitdrukking en die verbindende taal van musiek.