ATKV-Tienertoneel, die oudste projek van die ATKV, vier vanjaar sy twee-en-sestigste bestaansjaar.
Hierdie nasionale projek bied jong talent die ruimte om asem te haal, hul stem te ontdek en kreatief te groei binne ’n omgewing van mentorskap, ontdekking en verbeelding.
Die formaat bied deelnemers die geleentheid om ná elke opvoering in gesprek te tree met mentorbeoordelaars wat reeds diep spore in die bedryf getrap het.
’n Waardevolle uitruiling waar nuwe perspektiewe ingeasem, idees laat leef en talent die suurstof kry om verder te ontwikkel.
Vanjaar neem duisende tieners deel aan produksies regoor Suid-Afrika vanaf 23 Julie tot 29 Augustus.
Die topagtproduksies word uitgenooi na die ASEM-finaal van 29 September tot 3 Oktober by die Kunstekaap in Kaapstad.
’n Besonderse samekoms waar die land se sterkste jong teaterstemme saamvloei en die hartklop van Suid- Afrikaanse jeugteater opnuut laat voortleef.