
Daar is oomblikke in teater wanneer die gehoor so stil word dat jy amper mense kan hoor asem ophou. Nie omdat hulle belangstelling verloor het nie, maar omdat elkeen heeltemal ingetrek word in dit wat op die verhoog gebeur. Die meeste mense geniet ‘n storie wat hulle op hul tone hou. ‘n Donker omgewing, onverklaarbare geluide en die gevoel dat iets nie heeltemal reg is nie, was nog altyd die bestandele van ‘n goeie riller. Maar wat as die grootste gevaar glad nie in die donkerte wegkruip nie?
Daardie vraag lê aan die kern van TROMOS, Hoërskool Die Anker se nuutste verhoogproduksie, geskryf deur H.J. le Corre.’n Groep matriekleerders wat besluit om die misterie rondom die verlate Kempton Park Hospitaal te ondersoek. Nuuskierig om uit te vind of die spookstories feit of fiksie is. Wat begin as ‘n opwindende laatnag avontuur, neem gou ‘n ontstellende wending. Soos die storie ontvou, hou onverwagte kinkels almal aan die raai, wat dit byna onmoontlik maak om te voorspel wat volgende gaan gebeur.
Vir regisseur H.J. le Corre het die produksie nooit bloot daaroor gegaan om skrikwekkende oomblikke te skep nie. “‘n Goeie storie eindig nie wanneer die ligte afgaan nie. Jy wil hê mense moet die teater verlaat en dit bespreek op pad huis toe” sê hy.
Alhoewel die atmosfeer op die verhoog intens is, was repetisies dikwels gevul met lag. Hennie, wat Tromos vertolk, het aanvanklik gesukkel om in karakter te kom, veral gedurende die intense aanval tonele. Maar met deursettingsvermoë en goeie leiding van die regisseur en ondersteuning van die ander karakters, het hy “geklik” met die karakter en die rol fantasties uitgebeeld. Dit is juis sulke oomblikke, wat die konneksie tussen die spelers versterk het.
Terwyl TROMOS beslis spanning lewer, gaan die produksie oor veel meer as onverwagte skrikwekkende oomblikke. Onder die misterie lê ‘n storie oor manipulasie, vriendskap, vertroue en portuurdruk. Met atmosferiese beligting, sorgvuldig ontwerpte klank, toegewyde optredes van die ensemble en ‘n einde wat min gehore sal voorspel, vertoon TROMOS die kreatiwiteit en talent van Hoërskool Die Anker se jong kunstenaars.
Wanneer die ligte uiteindelik verdof en stilte die teater vul, kan een vraag lank nadat die opvoering verby is, bly hang: As vrees as ‘n wapen gebruik kan word… wie is werklik in beheer? Tromos kan gesien word by Allegretto Toneelfees in Julie asook by die ATKV Gauteng Streekfees op 20 Augustus 2026 by die Unisa Klein Teater. Volg Hoërskool Die Anker Toneel 2026 se sosiale media op alle platvorms.
Rolverdeling : Hennie Krause as Tromos, Christian Schroeder as Spies, Abigail Botha as Nadia, Heinrich Fillies as Derik , Waldo Rothmann as Vian en Tyla Nel as Mia
Tegnies : Line Brits as Verhoogbestuur, Mackayla Bousfield as klanktegnikus en Dominique Duvenhage as Ligtetegnikus










