
Drie unieke produksies beloof emosie, spanning en lag op die verhoog in 2026
Hoërskool Stoffberg en SSStudios maak gereed vir ’n opwindende toneelseisoen in 2026 met drie uiteenlopende produksies wat gehore op ’n emosionele reis gaan neem – van diep tragedie en ware misdaad tot skreeusnaakse komedie.
Die eerste produksie, Daar waar die geeste is, is ’n aangrypende tragedie wat ondersoek hoe ver ’n mens bereid is om te gaan om iemand weer te sien. Die produksie debuteer by die Reza de Wet Tienertoneelfees vanaf 2 tot 5 Julie.
Break a Leg neem weer ’n heel ander rigting. Die komedie bied ’n humoristiese kykie na die wêreld van tienertoneel en die chaos, drama en onverwagte oomblikke wat agter die gordyne afspeel. Die produksie maak sy debuut by die Sênet-fees vanaf 6 tot 10 Julie.
Die derde produksie, Die Skree van Sewe, is ’n dokumentêre toneelstuk gebaseer op die verhaal van Joan, die jong meisie wat daarin geslaag het om uit die greep van Gert van Rooyen te ontsnap ná die ontvoering van sewe kinders. Die produksie beloof om gehore diep aan te raak en gesprekke aan die gang te sit.
Al drie produksies sal ook later vanjaar hul verskyning maak by die ATKV-Tienertoneelkompetisie by Unisa se Kleinteater, asook by die FAK Allegretto Toneelfees.
Die seisoen volg op ’n jaar van merkwaardige sukses vir SSStudios. Verlede jaar het Die Eksotiese Epiloog van Eddie as naaswenners geëindig by sowel die FAK Allegretto Toneelfees as die Reza de Wet Tienertoneelfees – ’n prestasie wat die studio se groei en standaard op die verhoog verder beklemtoon.
Nog ’n besonderse prestasie uit SSStudios se geledere is dié van Ulrich Slabbert, wat ’n Naledi-teatertoekenning vir Beste Akteur in ’n studenteproduksie gewen het.
Agter die sukses van die produksies staan die dryfkrag van SSStudios, Kobus en Wayne van der Schyff-Smal, wie se passie en leiding die platform skep waar jong talent hul stem op die verhoog kan ontdek.
Vir meer inligting en opdaterings kan belangstellendes Schyff-Smal Studios op Instagram en Facebook volg.




