ASEMTEUE

Ontdek die stories wat inspireer, vier die oomblikke wat saak maak en bly deel van die reis.

Sondag is weg…

Dit is amper tyd vir die Aand van Name. Die mense treur, en die konsertina se note dra hulle rou deur die strate van Laastebrug. Hulle wag. Almal wag daarvoor. Die mynfluit… maar dit kom nooit nie.

[Op]soek na Sondag volg ses boemelaars soos hulle na Sondag, die sewende boemelaar, soek. Soos die geselskap verder op hul reis beweeg, ontdek hulle waarhede wat hul wêreld in mekaar laat tuimel.

[Op]soek na Sondag is ’n storie van hoop. Dit beeld die keuses uit wat elkeen van ons elke dag maak, in ’n beeldskone verhaal van verlies, identiteit en volharding uit. Dit herinner ons daaraan om hoop te hou in ’n hopelose wêreld. Elke karakter beeld ‘n unieke wyse waarop ons as mense die lewe probeer hanteer. Van die begeerte om alles te beheer tot die vreemde gewoonte waar ons maak of alles reg is. Die feit dat ons dit verkies om blind te wees as om die waarheid te sien en die onbesonne idee dat wag vir beter dae soms beter is as aksie.

Die nuutgeskrewe teks deur Luan Jacobs, onder regie van Ronelle van Heerden, slaan jou asem weg met ’n stel wat die verhoog laat lewe en spel wat emosie op só ’n egte wyse oordra dat die woorde deel van jou wese word.

Die stuk plaas Hoërskool Witteberg se vermoë om realisme met abstrakte betekenis te vermeng in die kollig, terwyl elke aspek van die toneel ’n uitgekomponeerde deel van die geheel vorm.

Kom beleef wat dit beteken om te leef op 24 Julie om 17:30 by die Playhouse Theatre in Durban.

“Hoop is, en bly, ’n boemelaar.”