
Op die oppervlak lyk sommige tieners se lewens perfek. Agter glimlagte, komplimente en mooi foto’s kan daar egter ’n heel ander werklikheid skuil. Sonneblom, ’n oorspronklike sielkundige tienerdrama deur Anke Cronje van Hoërskool Louis Trichardt, ondersoek die onsigbare druk wat tieners ervaar wanneer die behoefte om aanvaar en raakgesien te word, begin bots met die vraag: Wie is ek werklik?
Die verhaal fokus op twee tienermeisies wat die wêreld op baie verskillende maniere beleef. Layla word deur ander as perfek beskou, maar voel self ver daarvan. Onder die beeld van die meisie wat alles het, skuil ’n jongmens wat bloot aanvaar wil word. Jana, aan die ander kant, voel voortdurend asof sy nie goed genoeg is nie. Haar begeerte om eerste te wees, word al sterker — met die hoop dat dit uiteindelik ook haar selfbeeld sal verbeter.
Sonneblom is volledig oorspronklik deur Cronje geskryf, semi-gebaseer op werklike gebeure en situasies wat sy rondom haarself ervaar het. Die stuk ondersoek die druk van tienerwees binne ’n lewensfase waarin jongmense nog besig is om te ontdek wie hulle wil wees. Die sosiale verwagting om perfek te wees, om nie foute te maak nie en om voortdurend aanvaar te word, kan dit byna onmoontlik maak om die verskillende kante van jouself vrylik te ontdek.
Die titel van die drama dra ook ’n dieper simboliek. ’n Sonneblom het beide lig en donker nodig om te wees wat dit is. Net so bestaan mense uit meer as die beeld wat ander van hulle sien. Die produksie vra daarom nie net wie in die lig staan nie, maar ook wat in die skaduwees gebeur wanneer niemand kyk nie.
Volgens Cronje: “Die druk van tienerwees is dikwels swaarder as wat sigbaar is.”
Die skep van Sonneblom het ook sy eie uitdagings gebied. Om die verhouding tussen Layla en Derik geloofwaardig te maak, moes die akteurs se chemie ontwikkel word sodat hul verhouding soos ’n ware liefdesverhaal sou voel. Omdat Juandro Kruger, wat Derik vertolk, nog nooit voorheen ’n meisie gehad het nie, moes die span kreatief dink. Een middag wat eintlik vir repetisie bedoel was, is omskep in ’n romantiese “date” vir die twee akteurs. Hulle het byna twee uur lank net in mekaar se geselskap deurgebring en met mekaar gesels — ’n ongewone repetisie, maar een wat gehelp het om die nodige geloofwaardigheid tussen die karakters te bou.
Sonneblom is meer as net ’n drama, dit is ’n gesprek oor menswees. Dit herinner ons daaraan dat agter elke perfekte beeld ’n mens skuil wat steeds besig is om uit te vind wie sy is — en dat niemand net uit lig of net uit donker bestaan nie.


