ASEMTEUE

Ontdek die stories wat inspireer, vier die oomblikke wat saak maak en bly deel van die reis.

BERTIE-BEER, IS DAAI GENOEG KOLE?

Was jy al ooit by ’n bring-en-braai? Het iemand al lekker aan jou free-range Karoo-tjoppies gesmul terwyl jy met hulle half-gevriesde, afgemerkte hoenderboudjies moes sukkel? Het jou slaaitjie wat jy met al die liefde in jou hart gemaak het, nét so met sy Cling Wrap weer terug huis toe gegaan?

IS DAAI GENOEG KOLE? volg die storie van ’n jong paartjie wie se kole, te midde van die drama van ’n bring-en-braai, óók laag stook. Miskommunikasie en te veel Braaimasters wat aan die kole krap, veroorsaak dat die tjops aan die rooster vasbrand. Gaan hierdie paartjie hulle vlam weer vind voordat die vuur doodsmoor, of gaan hulle ook uitbrand?

Vanjaar op Paul Roos Gimnasium en Hoër Meisieskool Bloemhof se spyskaart is ’n splinternuwe, vars-uit-die-polistireen-pakkie komedie, genaamd IS DAAI GENOEG KOLE? Vir die eerste keer ooit staan Paul Roos Gimnasium en Hoër Meisieskool Bloemhof saam in die skepping van ’n Tienertoneel-produksie.

IS DAAI GENOEG KOLE? is ’n nuutgeskrewe teks deur Francois Odendaal, met regie deur Francois Odendaal en Leila Hölscher, wat vanuit waarnemings van familiebyeenkomste, kuiers met vriende, asook die alledaagse Afrikaans-kultuur gebore is. Die produksie is baie meer as ’n komedie wat by ’n braai afspeel — dit is ’n waardering van ons kultuur, herkoms, en tradisie. Dit herinner ons om trots te wees op ons taal en wat ons uniek maak, maar ook om mekaar te waardeer en nie as gevolg van roetine of gewoonte mekaar mis te kyk nie. IS DAAI GENOEG KOLE? betrek kykers by ’n braai tussen vriende, en gee hulle die kans om asem te skep en uit hul maag te lag.

“IS DAAI GENOEG KOLE? was vanjaar ongelooflik spesiaal om te skep en ek kon nie vir ’n beter toneelgroep gevra het nie. Ek het vriende gemaak met wie ek hopelik ook eendag só kan kuier soos die karakters in die produksie!” sê Reü Louw, die hoofspeler in die rol van Dawid Janse van Rensburg. “Dit voel soos ‘n vriendegroep wat hul ouers namaak vir ’n skooltaak — op die beste manier!” sê Tessa de Beer, ondersteunende aktrise in die rol van Luzanne Retief.

“Ek is ongelooflik bevoorreg om ’n besonderse talentvolle groep wat lewe in my woorde geblaas het, te hê. Sonder dié groep sou my teks nooit gehore só kon saambring soos wat dit doen nie. Elke dag wat ek saam met hulle werk, maak my opgewonde vir die toekoms van teater,” sê Francois Odendaal, dramaturg en regisseur van IS DAAI GENOEG KOLE?

Ons nooi jou graag om saam te kom braai op 27 Augustus om 17:30 in die Pam Golding Baxter Teater. Laat weet net wanneer Mareike die pin moet stuur!